
Trauma het amper ’n “normale” deel van ons lewe geword. Daar gaan feitlik nie ‘n dag verby waar ons nie gekonfronteer word met roof, moord, verkragtings, of motorkapings nie. Ons almal ken iemand wat deur ‘n nagmerrie ondervinding geleef het. Veral wanneer iemand dood is, of amper dood is, is die skaal van die trauma soms oorweldigend vir ons brein/ psige.
Die herstelproses na ‘n traumatise gebeurtenis neem dikwels tyd, en verloop vir die meeste van ons weke tot maande. Net soos ‘n fisiese wond wat eers baie seer is en bloei, later ‘n roof vorm, en mettertyd met ‘n litteken genees, neem die psige ook tyd om te genees. Die hersteltydperk verskil van persoon tot persoon, en niemand hoef skuldig te voel as dit tyd vat om “daaroor te kom” nie. Aanvanklik sal jou stresvlakke erg verhoog, jy is geïrriteerd, sukkel om af te skakel of te slaap, kry soms nagmerries, of vermy soortgelyke situasies. Sodra jy weer veiliger begin voel in jou eie lyf, ”genees” die psigiese wond en dit bly slegs voortbestaan as die onthou van ‘n slegte ondervinding.
Oorgeërfde angs lei dikwels tot perfeksionisme, skaamheid, chroniese bekommernis, tel of speel met syfers, “checking” waar jy 3 maal gaan kyk of jy die deur of kar gesluit het, of mense wat hou daarvan om dinge skoon en netjies te maak. Ja ek weet jy het jouself sopas herken!
Polisiebeamptes, nooddienste en sekuriteitspersoneel word gewoonlik meer blootgestel as die publiek en hulle risiko is daarom groter om later langdurige probleme te ondervind. Veral mense wat voorheen soortgelyk getraumatiseer is, of wat onderliggende angs-probleme ervaar het, dra ‘n verhoogde risiko vir die ontwikkeling van Post Traumatiese Stress Versteuring. (PTSV).
Wanneer maande verbygaan na die trauma waarin daar geen beterskap ervaar word, of die angsvlakke nie normaliseer nie, mag dit vir jou nodig wees om professionele hulp te verkry van ‘n gekwalifiseerde trauma berader, kliniese sielkundige of psigiater binne ‘n veilige omgewing.
Post Traumatiese Stres Versteuring (PTSV) ontstaan wanneer ‘n persoon se psige sukkel om na die trauma te genees, en progressief meer sielkundige en/of fisiese simptome ontwikkel, en funksioneel ingekort raak. Sommige mense sukkel jare later nog steeds met prentjies, videos in hulle gedagtes, of nagmerries oor die trauma. Helder onthou van wat gebeur het.
Tekens wat daarop kan dui dat jy dalk professionele hulp nodig het, kan insluit:
- Terugflitse, helder herinneringe en/of nagmerries
- Erge bangheid, angs, oormatige skrik, of aggressiewe ontploffings, en later depressie
- Vermyding van plekke of aktiwiteite wat jou herinner aan die gebeure
- Emosionele afstomping – voel net niks, niks maak saak nie
- Misbruik van alkohol of dwelms om beter te voel
- Sukkel om behoorlik te funksioneer by die huis of werk
- Verhoudings wat skade lei weens jou oorreaksie of aggressie
Trauma kan veroorsaak dat ‘n mens se senu-stelsel in ‘n veg-of-vlug toestand “vashaak”. Suksesvolle behandeling moet hierdie wanbalans herstel en jou ware sin van veiligheid herstel. Trauma behandeling deur ‘n terapeut wat jy vertrou sluit prosessering van die trauma verwante gedagtes en gevoelens in. Dit is ook belangrik dat u leer hoe om verwante oorweldigende emosies aan te spreek. U sal waarskynlik moet leer om ander mense weer te vertrou.
‘n Mens moet ook kan rou oor die verliese wat jy gely het. Geduld is dikwels n kritiese noodsaaklikheid. Net soos wat n diep wond, of ou vrot wond tyd gaan neem om te genees, sal jou binneste ook soveel tyd neem as wat nodig is. Moeilike en onstellende emosies kan deel wees van die herstelproses, net soos die skoonmaak van ‘n fisiese wond seer behoort te wees, maar ervaar en laat jouself toe om werklik te “voel” sonder om uself te oordeel of skuldgevoelens te hê.
Kyk met opset en met nuwe oë na binne en buite, en kyk hoe jou lewe verander. As ons die wonde van die verlede met sorg en kennis skoonmaak en weer skoonmaak, sal hulle genees. Beide fisies en psigies. Bloemfontein beskik oor van die land se beste hospitale, psigiaters en sielkundiges. Kry hulp, vra jou dokter of kontak Optima Hospitaal by info@optimabloem.co.za .