
OM die bestuur van ’n hospitaal waar te neem is nie altyd ’n maklike taak nie. Om die rede het ’n bestuurder in sy/haar span mense nodig om sy/haar hande sterk te maak.
Dít is presies wat die twee eenheidsbestuurders van M-Care Optima vir hul verpleegdiensbestuurder beteken.
Sr. Laetitia Kruger, dageenheidsbestuurder, is een van die onmisbare skakels in die span. Sy werk sedert 1 Augustus 2011 as eenheidsbestuurder by Optima. Sy hanteer die personeelsake en is ook in bevel van die tienereenheid. Hier staan sy kop en skouers uit in die hantering van tieners, ouers en personeellede. Sy is op die hoogte van die nuutste neigings in die hantering van tieners en met haar agtergrond as kinderterapeut is sy van onskatbare waarde vir die Optima-hospitaal. Sy is ook baie in die gemeenskap betrokke en ondersteun haar man en kinders aktief, veral langs die hokkieveld.
Sr. Jeanine le Hardy is die nageenheidsbestuurder en die ander onmisbare skakel sedert sy op 1 November 2011 by Optima begin het. Sy maak ook hier ’n reuse-impak op die bestuur van die hospitaal. Met haar bestuursondervinding en pasiënthantering kan sy die krisisse wat in die nag opduik, hanteer. Sy is baie empaties en die nagpersoneellede voel veilig deurdat hulle ook iemand het wat na hul belange omsien en hul hande sterk maak.
In die omgewing van omgee en bestuur skep dié twee vroue ’n atmosfeer van veiligheid vir personeellede en pasiënte en salueer die bestuur hulle vir hul onbaatsugtige en soms baie ondankbare diens.