Please wait...

Matige angs is goed vir jou

matige-angs-1200x568.jpg

LIGTE tot matige angs of spanning is ’n normale lewenstoestand wat dikwels veroorsaak dat die liggaam goed funksioneer en goed gefokus bly.

Wanneer die angs egter vererger, word dit progressief skadeliker vir die funksionering van die liggaam. ’n Goeie analogie is ’n motorenjin. Wanneer die revs onder die rooi lyn bly, funksioneer die enjin optimaal. Indien die enjin egter heeltyd bo die rooi lyn rev, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die enjin begin skade opdoen.

Dit is duidelik bewys dat daar ’n sterk genetiese familiële oorerflikheid vir angs bestaan, met verskeie mense uit verskillende geslagte wat simptome toon. Tussen 18% en 28% van gewone mense het ’n angsversteuring. Erge angs word dikwels eers sigbaar met trauma soos ’n erge siekte, kaping, egskeiding, misoes, verlies van familielede of bankrotskap.

Angsversteurings is dikwels die onderliggende oorsaak van depressie, alkohol- en ander substansmisbruik. Angs stimuleer adrenalien en aktiveer jou lyf se veg-of-vlug-reaksie wat ’n verskeidenheid fisieke simptome kan hê. Dit sluit in spierspasmas, hoofpyne, droë mond, slukprobleme, borskasdrukking en hartkrampe, ’n kol op die maag, bloeddruk, diarree, sweet, geïrriteerdheid en slaapstoornisse.

Verder bekommer sommige mense hulle oor alles. Selfs al besef hulle die kommer is oormatig, kan hulle dit nie afskakel nie en sukkel dus om te ontspan.

Navorsing bewys dit is ’n goed omskrewe siektegroep wat gewoonlik goed op behandeling reageer. Kalmeermiddels mag die simptome tydelik verbeter, maar as die simptome ’n mens se funksionering aantas, moet dit volledig behandel word.

Aangesien antidepressante die stres-stelsel kan laat afkoel en groei van nuwe breinbane fasiliteer en verbeter, lyk dit asof pa­siënte wat op lang termyn behandel word, progressief verbeter en mettertyd laer dosisse medisyne kan gebruik.

Duidelik beskryfde versteurings onder die angsversteuringgroep sluit in: ) Paniekversteuring met paniekaanvalle; ) Posttraumatiese stresversteuring ná erge trauma; ) Sosiale fobie wat ’n erge vorm van skaamheid is; ) Obsessief kompulsiewe versteuring met chroniese obsessiewe gedagtes, gevolg deur rituele of kompulsies; en ) Spesifieke fobies soos vir vlieg, hoogtes, hysbakke en spinnekoppe kan ook voorkom.

Behandeling van angsversteurings sluit medisyne in wat oormatige angs beheer en die brein help om nuwe bane te groei.

Kinders en tieners kan hierdie tipe angsversteurings kry, hoewel hulle dikwels effens anders presenteer soos met fobies vir byvoorbeeld skool en sosiale geleenthede, paniek en ook skeidigsangs, mutisme en gedragsprobleme.
Die belangrikste aanduider van angs in ’n kind is kinders wat heeltyd bekommerd is. Kinders met ’n veralgemene angsversteuring bekommer hulle oor dinge wat ander kinders nie eers aan dink nie; vir die meeste van die tyd, vir minstens ses maande lank. Geassosieerde simptome is rusteloosheid, moegheid, swak konsentrasie (met sekondêre leerprobleme), geïrriteerdheid, spierspasmas en slaapprobleme.

Onbehandelde angsversteurings kan ook lei tot depressie in kinders.

Tieners misbruik dikwels alkohol en ander substanse as ’n manier van selfmedikering vir angs. Angsversteurings is behandelbaar, en hoe vroeër dit gehanteer word, hoe beter. ) Berig saamgestel deur dr. Fanie Meyer, ’n psigiater aan die Optima MCare- psigiatriese hospitaal in Bloemfontein en dr. Christa Weyers, hoof van die tienereenheid by dié hospitaal.

optima_logo_white

The Optima Psychiatric Hospital, a healing centre, situated in the Bloemfontein suburb, Hospitaalpark, accommodating 76 patients and is operated by a company consisting of nine partners, all Psychiatrists.

Contact Details

17 Addison St, Bloemfontein, 9301
Phone: 051 502 1800
Information
Email: help.optima@mcare.co.za
Admissions
Email: help.optima@mcare.co.za
© 2025 M-Care Optima - Website design & development by Digital Platforms
SAcoronavirus.co.za