Please wait...

M-Care Optima vier 5 jaar in Bfn

M-Care-Optima-vier-5-jaar-in-Bfn-1200x597.jpg

VYF jaar ná die opening van die M-Care Optima-hospitaal in ­Hospitaalpark in Bloemfontein in ­Februarie  2010,  het daar reeds heelwat  nuwe toevoegings gekom. Dit was met die opening een van die eerste volwaardige hospitale in Bloemfontein wat volledig deur dokters besit is. Dié hospitaal is die verwesenliking van ’n droom wat baie jare deur psigiaters van Bloemfontein gekoester is. Aangesien alle hospitale besighede is en groot sakeondernemings betrokke is, het dokters nie altyd ’n sê oor hoe hul pasiënte gehanteer behoort te word nie.

Volgens dr. Fanie Meyer, een van die stigterslede van die hospitaal, is Optima uniek omdat die dokters nie van die hospitaal se inkomste afhanklik is nie, maar hul inkomste deur hul praktyke genereer. “Die benadering is daarom ­minder winsgedrewe en meer ­pasiëntgedrewe,” sê Meyer. “Die hospitaal en die terapeutiese omgewing daarbinne is die ‘teater’ waarin psigiaters ‘opereer’. Dit is daarom noodsaaklik dat alles en almal binne die hospitaalspan so opbouend en gemaklik moontlik moet kan saamwerk.”

Sedert die opening is daar onder meer ’n nuwe tiener-afdeling, ’n afdeling vir die behandeling van jonger kinders en ’n terapie­kamer­ vir sensoriese integrasie in die rooi huis oorkant die straat geopen. Die rooi huis waarin dr. Christa Weyers se praktyk, asook dié van arbeidsterapeute geleë is, asook die lapa-huis waar kinderterapie toegepas word, is van die nuwe toevoegings tot die hospitaal. In hierdie afdelings werk ’n ­geïntegreerde span van onder meer arbeidsterapeute saam met kliniese sielkundiges en psigiaters om aan pasiënte die beste moontlike behandeling te gee. Kinders en ouers word soms saam op­geneem om gesinsterapie te vergemaklik.

Meyer sê die doelwit van die hospitaal is eerder om ’n atmosfeer te skep waarbinne almal gemaklik kan saamwerk om beterskap te verseker as om net te fokus op die syfers wat die boeke laat klop. Pasiënte  het  toegang  tot ’n internetstasie  waardeur hulle onder meer tot verskeie webblaaie met relevante inligting oor hul verskillende siektes toegang kan  kry. Die dieet wat gevolg word, is ’n lae-GI-dieet wat gesondheid verbeter. ’n Gerieflike nuwe sitkamer waarin pasiënte op afsprake met die psigiaters kan wag, is ook intussen ingerig. Meyer sê die hospitaal skep ’n omgewing waarin mense genees word en waardeur hul lewe verander word. Hier val die klem op gesondheid eerder as siekte.

Die begindae
Die proses vir die stigting van M-Care Optima is reeds in 2006 begin, maar geen lisensie is in daardie stadium toegeken nie. In April 2009 het die dokters se aansoek om ’n lisensie weer voor die departement van gesondheid gedien, wat goedgunstiglik op 8 Mei 2009 ’n voorlopige lisensie toegestaan het. Van daar af het die projek soos ’n warrelwind spoed opgebou. Die Bloemfontein Inn-gastehuis is bekom en op 2 September 2009 kon verbouings begin. Teen Januarie 2010 was die groot strukturele bouwerk afgehandel en kon detail-afrondingswerk begin word en is verpleegpersoneel aangestel. Die eerste pasiënte is op 5 Februarie van daardie jaar opgeneem en die hospitaal kon binne die eerste twee weke reeds sy volle kapasiteit benut.

Terapieprogram
Vanweë die uniekheid van die benadering en omdat ’n weldeurdagte, geïntegreerde groepsprogram aangebied word, word Optima as een van die beste terapeutiese eenhede in die land beskou, en word pasiënte van oor die land heen hier behandel. Die gevoel van die meerderheid van pasiënte is gewoonlik: “Ek wens ek het tien jaar gelede al hierheen gekom.”

Toekoms
Aangesien Optima oor uitgebreide kundigheid beskik en daar veral op die gebied van behandelingsweerstandige depressie baanbrekerswerk gedoen word, is daar groot planne in die vooruitsig. ’n Nuwe hospitaal word beplan waar die holistiese behandeling van chroniese pyn, diabetes, vetsug, asook MIV in gespesialiseerde programme deur ’n multidissiplinêre span behandel sal word vir beter uitkomste. Bouwerk sal begin sodra die aansoek tot hersonering afgehandel is. “Ons sien geweldig uit na ’n nuwe fase met ’n holistiese behandelingsmodel wat selde in hoofstroomgeneeskunde gesien is,” sê Meyer. “Meer hulp, met beter uitkomste, teen laer tariewe. Dit is wat ons wil bied.”

optima_logo_white

The Optima Psychiatric Hospital, a healing centre, situated in the Bloemfontein suburb, Hospitaalpark, accommodating 76 patients and is operated by a company consisting of nine partners, all Psychiatrists.

Contact Details

17 Addison St, Bloemfontein, 9301
Phone: 051 502 1800
Information
Email: help.optima@mcare.co.za
Admissions
Email: help.optima@mcare.co.za
© 2025 M-Care Optima - Website design & development by Digital Platforms
SAcoronavirus.co.za