
VERPLEEGPERSONEEL kan eers van waarde wees indien hulle besef dat elkeen van hulle waardevol is. Selfkennis en die besef van selfwaarde stel die verpleegkundige in staat om die konsep van waarde aan pasiënte oor te dra.
Haar of sy ervaring van, “ek is waardevol,” rig haar of sy standaard van versorging en omgee. Die gevolg is ’n hoë standaard van verpleegsorg.
Dié soort sorg het min risiko’s, laer finansiële uitgawe, pasiënttevredenheid en ’n gesonder gemeenskap tot gevolg.
Pasiënte wat tydens hul opname ervaar het, “ek is van waarde, ek maak saak,” sal hierdie boodskap sonder twyfel bewustelik en onbewustelik aan die wêreld kommunikeer.
Dit is ’n wêreld wat daarna smag om te hoor: Ek is van waarde. Ook ’n gemeenskap, ’n individu, wat daarna smag om te ervaar: Ek is van waarde.
’n Leuse, want ons gee regtig om, sal slegs woorde wees indien daar nie verpleegpersoneel is wat “omgee” aan pasiënte en die publiek kan kommunikeer nie.
Natuurlik behels hierdie kommunikasie nie net woorde nie, maar heelwat meer. Dit sluit die voorkoms, die gedrag en die waardes wat die verpleegkundige toon, in. Ook ’n glimlag, toepaslike aanraking en tyd om te luister.
Goeie verpleegpersoneel is van onskatbare waarde vir die gemeenskap en die organisasie vir wie hulle werk.
’n Verpleegkundige wat gekoester word en waardevol voel, verseker die pasiënt, die organisasie en die gemeenskap het dieselfde ervaring.
Goeie verpleging is aansteeklik.
Optima salueer sy verpleegpersoneel.