Please wait...

Depressie-oor-die-feestyd-1200x538.jpg
05/Dec/2023

Dr Fanie Meyer

Die feestyd is nie vir almal ‘n tyd van familie, vreugde en omgee vir mekaar nie.  Sommige mense sien vir weke voor die tyd al op na wat in die feestyd vir hulle voorlê.  Die seer van alleen voel wanneer almal opgewonde is oor hulle feestyd-planne, is vir sommige mense die oorsaak van ‘n donker depressie wat selfs kan lei tot selfmoord-gedagtes. Die gevoel van hopeloosheid en alleenheid kan oorweldigend raak.

Wanneer ‘n mens voel jy is nie “goed genoeg”om saam met ander te deel in die opgewondenheid van feestelike etes en samesyn nie, kan jy in die donkerte binne jouself voel dat jy nie die moeite werd is vir ander nie.  Mens kan selfs selfmoord sien as ‘n oplossing vir jouself en almal om jou.  Jy kan dalk ook voel jy is ‘n groter mislukking as jy nie die selfdood kan deurvoer nie.

Mense wat alleen voel ervaar ‘n vakansie eerder as ‘n spanningsvolle tyd wat angs en depressie veroorsaak as wat dit hulle laat uitsien na ‘n tyd van rus en vrolikheid.  Die werklikheid van alleenwees en wat dit alles behels kan lei tot meer wanhoop en kan dan ‘n oorweldigende emosie raak wat verhoed dat jy die vakansie of feestyd kan geniet.

Dit is dus belangrik om te onthou dat ander se mening nie jou lewe werd is nie en dat jy wel weer beter sal voel.  Jy sal weer die lewe kan geniet!  Die belangrikste is om met iemand te praat oor jou gevoelens.  ‘n Vriend of ‘n sielkundige wat jy vertrou.  Om die pad van selfmoordneigings te oorkom, is ‘n moeisame een.  Wanneer jy dus met iemand hierdie gedagtes kan bespreek en saam na ‘n oplossing soek sal die uitkoms soveel makliker wees.

Wanneer jy alleen is oor die feestyd is dit dalk ‘n goeie idee om op Kersdag by ‘n liefdadigheids-organisasie, kinderhuis of ouetehuis byvoorbeeld te gaan help om kos op te dien.  Lees ‘n lekker boek of kook vir jouself ‘n wonderlike ete.  Dit sal jou laat beter voel om op ander te fokus en terselfdertyd bederf jy iemand wat dalk ook alleen voel.

Dit is dus belangrik dat jy self beheer neem oor jou situasie.  Besluit vooraf hoe jy jou tyd gaan spandeer en probeer die positiewe van die ervaring van die feestyd en vakansie te beleef.

Wanneer jy voel dat jy beheer verloor kontak dadelik Sadag se selfmoordhulplyn: 0800 567 567 of 011 262 6396 of stuur ‘n SMS na 31393. • Lifeline-hulplyn: 0861 322 322


Wat-gebeur-in-jou-kop-na-‘n-traumatiese-gebeurtenis-1200x566.jpg
05/Dec/2023

Trauma het amper ’n “normale” deel van ons lewe geword. Daar gaan feitlik nie ‘n dag verby waar ons nie gekonfronteer word met roof, moord, verkragtings, of motorkapings nie. Ons almal ken iemand wat deur ‘n nagmerrie ondervinding geleef het. Veral wanneer iemand dood is, of amper dood is, is die skaal van die trauma soms oorweldigend vir ons brein/ psige.

Die herstelproses na ‘n traumatise gebeurtenis neem dikwels tyd, en verloop vir die meeste van ons weke tot maande. Net soos ‘n fisiese wond wat eers baie seer is en bloei, later ‘n roof vorm, en mettertyd met ‘n litteken genees, neem die psige ook tyd om te genees.  Die hersteltydperk verskil van persoon tot persoon, en niemand hoef skuldig te voel as dit tyd vat om “daaroor te kom” nie. Aanvanklik sal jou stresvlakke erg verhoog, jy is geïrriteerd, sukkel om af te skakel of te slaap, kry soms nagmerries, of vermy soortgelyke situasies. Sodra jy weer veiliger begin voel in jou eie lyf, ”genees” die psigiese wond en dit bly slegs voortbestaan as die onthou van ‘n slegte ondervinding.

Oorgeërfde angs lei dikwels tot perfeksionisme, skaamheid, chroniese bekommernis, tel of speel met syfers, “checking” waar jy 3 maal gaan kyk of jy die deur of kar gesluit het, of mense wat hou daarvan om dinge skoon en netjies te maak. Ja ek weet jy het jouself sopas herken!

Polisiebeamptes, nooddienste en sekuriteitspersoneel word gewoonlik meer blootgestel as die publiek en hulle risiko is daarom groter om later langdurige probleme te ondervind. Veral mense wat voorheen soortgelyk getraumatiseer is, of wat onderliggende angs-probleme ervaar het, dra ‘n verhoogde risiko vir die ontwikkeling van Post Traumatiese Stress Versteuring. (PTSV).

Wanneer maande verbygaan na die trauma waarin daar geen beterskap ervaar word, of die angsvlakke nie normaliseer nie, mag dit vir jou nodig wees om professionele hulp te verkry van ‘n gekwalifiseerde trauma berader, kliniese sielkundige of psigiater binne ‘n veilige omgewing.

Post Traumatiese Stres Versteuring (PTSV) ontstaan wanneer ‘n persoon se psige sukkel om na die trauma te genees, en progressief meer sielkundige en/of fisiese simptome ontwikkel, en funksioneel ingekort raak. Sommige mense sukkel jare later nog steeds met prentjies, videos in hulle gedagtes, of nagmerries oor die trauma. Helder onthou van wat gebeur het.

Tekens wat daarop kan dui dat jy dalk professionele hulp nodig het, kan insluit:

  • Terugflitse, helder herinneringe en/of nagmerries
  • Erge bangheid, angs, oormatige skrik, of aggressiewe ontploffings, en later depressie
  • Vermyding van plekke of aktiwiteite wat jou herinner aan die gebeure
  • Emosionele afstomping – voel net niks, niks maak saak nie
  • Misbruik van alkohol of dwelms om beter te voel
  • Sukkel om behoorlik te funksioneer by die huis of werk
  • Verhoudings wat skade lei weens jou oorreaksie of aggressie

Trauma kan veroorsaak dat ‘n mens se senu-stelsel in ‘n veg-of-vlug toestand “vashaak”.  Suksesvolle behandeling moet hierdie wanbalans herstel en jou ware sin van veiligheid herstel. Trauma behandeling deur ‘n terapeut wat jy vertrou sluit prosessering van die trauma verwante gedagtes en gevoelens in.  Dit is ook belangrik dat u leer hoe om verwante oorweldigende emosies aan te spreek.  U sal waarskynlik moet leer om ander mense weer te vertrou.

‘n Mens moet ook kan rou oor die verliese wat jy gely het. Geduld is dikwels n kritiese noodsaaklikheid. Net soos wat n diep wond, of ou vrot wond tyd gaan neem om te genees, sal jou binneste ook soveel tyd neem as wat nodig is. Moeilike en onstellende emosies kan deel wees van die herstelproses, net soos die skoonmaak van ‘n fisiese wond seer behoort te wees, maar ervaar en laat jouself toe om werklik te “voel” sonder om uself te oordeel of skuldgevoelens te hê.

Kyk met opset en met nuwe oë na binne en buite, en kyk hoe jou lewe verander. As ons die wonde van die verlede met sorg en kennis skoonmaak en weer skoonmaak, sal hulle genees. Beide fisies en psigies. Bloemfontein beskik oor van die land se beste hospitale, psigiaters en sielkundiges. Kry hulp, vra jou dokter of kontak Optima Hospitaal by info@optimabloem.co.za .


Optima-Hospitaal-moedig-deelname-aan-die-lewe-aan-1200x576.jpg
05/Dec/2023

Die Optima Hospitaal se naam het sy oorsprong in Optimisme, Optimale funksionering en optimale behandeling.  Dit is ons passie om te sien dat mense vol betekenisvolle lewens lei terwyl ons almal die kans het.

”You only live once, but that should be enough if you do it well”. Daarom moedig ons pasiënte aan om deur ‘n daadwerklike wilsbesluit, verantwoordelikheid vir hulle algemene selfsorg, produktiwitiet en welstand te aanvaar.

Die aktiewe toepasing van ‘n besluit behoort optimale onafhanklikheid en gebalanseerde betrokkenheid in alle areas van u lewe tot gevolg te hê.

Werk, slaap, geestelike groei, verhoudings, kreatiwiteit en deelname in opbouende aktiwiteite binne u omstandighede, is areas waarin elkeen kan verbeter.  Net soos iemand jou moes leer tel, spel, of bestuur, kan jy beter funksioneer as iemand jou leer hoe om konflik, of spanning, of werksdruk te hanteer. Het iemand jou al geleer om regtig te ontspan?

Die kennis wat jy oor hierdie aspekte bekom kan ‘n totale verandering bring in die manier waarmee jy na die lewe kyk, en dit kan spontaan lei tot ‘n optimale,  meer positiewe lewenservaring.

”Mindfulness” (bewus wees), is n ou denkrigting wat deesdae weer baie belangstelling wek, nadat studies bewys het dat ”mindfulness” kan bydra tot versnelde breingroei in bepaalde kritiese areas van die brein. Dit behels ‘n bewuste besluit om aspris meer bewus te word van jou omgewing, jou lyf, die mense naby jou. Voel jou voete op die grond, of die koerant in jou hande. Proe aspris jou koffie. Die bewusraak van alledaagse, sonder om daaroor te bekommer, of dit te wil reg maak, maar net omdat dit is, kan regtig bydra tot breingroei, en verminder selfs chroniese pyn.

Kyk met opset en met nuwe oe na binne en buite, en kyk hoe jou lewe verander. Kontak Optima vir verdere ondersteuning om beheer te neem vir jou persoonlike welstand.  Die e-pos adres is info@optimabloem.co.za en telefoonnommer is 051-502-1800.


Elke-verpleer-kosbaar-1200x574.jpg
05/Dec/2023

VERPLEEGPERSONEEL kan eers van waarde wees indien hulle ­besef dat elkeen van hulle ­waardevol is. Selfkennis en die besef van selfwaarde stel die verpleegkundige in staat om die ­konsep van waarde aan pasiënte oor te dra.
Haar of sy ervaring van, “ek is waardevol,” rig haar of sy standaard van versorging en omgee. Die gevolg is ’n hoë standaard van verpleegsorg.

Dié soort sorg het min risiko’s, laer finansiële uitgawe, pasiënt­tevredenheid en ’n gesonder gemeenskap tot gevolg.
Pasiënte wat tydens hul opname ervaar het, “ek is van waarde, ek maak saak,” sal hierdie boodskap sonder twyfel bewustelik en onbewustelik aan die wêreld kommunikeer.

Dit is ’n wêreld wat daarna smag om te hoor: Ek is van waarde. Ook ’n gemeenskap, ’n individu, wat daarna smag om te ­ervaar: Ek is van waarde.

’n Leuse, want ons gee regtig om, sal slegs woorde wees indien daar nie verpleegpersoneel is wat “omgee” aan pasiënte en die publiek kan kommunikeer nie.

Natuurlik behels hierdie kommunikasie nie net woorde nie, maar heelwat meer. Dit sluit die voorkoms, die gedrag en die waardes wat die verpleegkundige toon, in. Ook ’n glimlag, toepaslike aanraking en tyd om te luister.

Goeie verpleegpersoneel is van onskatbare waarde vir die gemeenskap en die organisasie vir wie hulle werk.

’n Verpleegkundige wat gekoester word en waardevol voel, verseker die pasiënt, die organisasie en die gemeenskap het dieselfde ervaring.

Goeie verpleging is aansteeklik.

Optima salueer sy verpleeg­personeel.


M-Care-Optima-vier-5-jaar-in-Bfn-1200x597.jpg
05/Dec/2023

VYF jaar ná die opening van die M-Care Optima-hospitaal in ­Hospitaalpark in Bloemfontein in ­Februarie  2010,  het daar reeds heelwat  nuwe toevoegings gekom. Dit was met die opening een van die eerste volwaardige hospitale in Bloemfontein wat volledig deur dokters besit is. Dié hospitaal is die verwesenliking van ’n droom wat baie jare deur psigiaters van Bloemfontein gekoester is. Aangesien alle hospitale besighede is en groot sakeondernemings betrokke is, het dokters nie altyd ’n sê oor hoe hul pasiënte gehanteer behoort te word nie.

Volgens dr. Fanie Meyer, een van die stigterslede van die hospitaal, is Optima uniek omdat die dokters nie van die hospitaal se inkomste afhanklik is nie, maar hul inkomste deur hul praktyke genereer. “Die benadering is daarom ­minder winsgedrewe en meer ­pasiëntgedrewe,” sê Meyer. “Die hospitaal en die terapeutiese omgewing daarbinne is die ‘teater’ waarin psigiaters ‘opereer’. Dit is daarom noodsaaklik dat alles en almal binne die hospitaalspan so opbouend en gemaklik moontlik moet kan saamwerk.”

Sedert die opening is daar onder meer ’n nuwe tiener-afdeling, ’n afdeling vir die behandeling van jonger kinders en ’n terapie­kamer­ vir sensoriese integrasie in die rooi huis oorkant die straat geopen. Die rooi huis waarin dr. Christa Weyers se praktyk, asook dié van arbeidsterapeute geleë is, asook die lapa-huis waar kinderterapie toegepas word, is van die nuwe toevoegings tot die hospitaal. In hierdie afdelings werk ’n ­geïntegreerde span van onder meer arbeidsterapeute saam met kliniese sielkundiges en psigiaters om aan pasiënte die beste moontlike behandeling te gee. Kinders en ouers word soms saam op­geneem om gesinsterapie te vergemaklik.

Meyer sê die doelwit van die hospitaal is eerder om ’n atmosfeer te skep waarbinne almal gemaklik kan saamwerk om beterskap te verseker as om net te fokus op die syfers wat die boeke laat klop. Pasiënte  het  toegang  tot ’n internetstasie  waardeur hulle onder meer tot verskeie webblaaie met relevante inligting oor hul verskillende siektes toegang kan  kry. Die dieet wat gevolg word, is ’n lae-GI-dieet wat gesondheid verbeter. ’n Gerieflike nuwe sitkamer waarin pasiënte op afsprake met die psigiaters kan wag, is ook intussen ingerig. Meyer sê die hospitaal skep ’n omgewing waarin mense genees word en waardeur hul lewe verander word. Hier val die klem op gesondheid eerder as siekte.

Die begindae
Die proses vir die stigting van M-Care Optima is reeds in 2006 begin, maar geen lisensie is in daardie stadium toegeken nie. In April 2009 het die dokters se aansoek om ’n lisensie weer voor die departement van gesondheid gedien, wat goedgunstiglik op 8 Mei 2009 ’n voorlopige lisensie toegestaan het. Van daar af het die projek soos ’n warrelwind spoed opgebou. Die Bloemfontein Inn-gastehuis is bekom en op 2 September 2009 kon verbouings begin. Teen Januarie 2010 was die groot strukturele bouwerk afgehandel en kon detail-afrondingswerk begin word en is verpleegpersoneel aangestel. Die eerste pasiënte is op 5 Februarie van daardie jaar opgeneem en die hospitaal kon binne die eerste twee weke reeds sy volle kapasiteit benut.

Terapieprogram
Vanweë die uniekheid van die benadering en omdat ’n weldeurdagte, geïntegreerde groepsprogram aangebied word, word Optima as een van die beste terapeutiese eenhede in die land beskou, en word pasiënte van oor die land heen hier behandel. Die gevoel van die meerderheid van pasiënte is gewoonlik: “Ek wens ek het tien jaar gelede al hierheen gekom.”

Toekoms
Aangesien Optima oor uitgebreide kundigheid beskik en daar veral op die gebied van behandelingsweerstandige depressie baanbrekerswerk gedoen word, is daar groot planne in die vooruitsig. ’n Nuwe hospitaal word beplan waar die holistiese behandeling van chroniese pyn, diabetes, vetsug, asook MIV in gespesialiseerde programme deur ’n multidissiplinêre span behandel sal word vir beter uitkomste. Bouwerk sal begin sodra die aansoek tot hersonering afgehandel is. “Ons sien geweldig uit na ’n nuwe fase met ’n holistiese behandelingsmodel wat selde in hoofstroomgeneeskunde gesien is,” sê Meyer. “Meer hulp, met beter uitkomste, teen laer tariewe. Dit is wat ons wil bied.”


onskatbare-waarde-1200x600.jpg
05/Dec/2023

OM die bestuur van ’n hospitaal waar te neem is nie altyd ’n maklike taak nie. Om die rede het ’n bestuurder in sy/haar span mense nodig om sy/haar hande sterk te maak.

Dít is presies wat die twee eenheidsbestuurders van M-Care Optima vir hul verpleegdiensbestuurder beteken.
Sr. Laetitia Kruger, dageenheidsbestuurder, is een van die onmisbare skakels in die span. Sy werk sedert 1 Augustus 2011 as eenheidsbestuurder by Optima. Sy hanteer die personeelsake en is ook in bevel van die tienereenheid. Hier staan sy kop en skouers uit in die hantering van tieners, ouers en personeellede. Sy is op die hoogte van die nuutste neigings in die hantering van tieners en met haar agtergrond as kinderterapeut is sy van onskatbare waarde vir die Optima-hospitaal. Sy is ook baie in die gemeenskap betrokke en ondersteun haar man en kinders aktief, veral langs die hokkieveld.

Sr. Jeanine le Hardy is die nageenheidsbestuurder en die ander onmisbare skakel sedert sy op 1 November 2011 by Optima begin het. Sy maak ook hier ’n reuse-impak op die bestuur van die hospitaal. Met haar bestuursondervinding en pasiënthantering kan sy die krisisse wat in die nag opduik, hanteer. Sy is baie empaties en die nagpersoneellede voel veilig deurdat hulle ook iemand het wat na hul belange omsien en hul hande sterk maak.

In die omgewing van omgee en bestuur skep dié twee vroue ’n atmosfeer van veiligheid vir personeellede en pasiënte en salueer die bestuur hulle vir hul onbaatsugtige en soms baie ondankbare diens.


matige-angs-1200x568.jpg
05/Dec/2023

LIGTE tot matige angs of spanning is ’n normale lewenstoestand wat dikwels veroorsaak dat die liggaam goed funksioneer en goed gefokus bly.

Wanneer die angs egter vererger, word dit progressief skadeliker vir die funksionering van die liggaam. ’n Goeie analogie is ’n motorenjin. Wanneer die revs onder die rooi lyn bly, funksioneer die enjin optimaal. Indien die enjin egter heeltyd bo die rooi lyn rev, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die enjin begin skade opdoen.

Dit is duidelik bewys dat daar ’n sterk genetiese familiële oorerflikheid vir angs bestaan, met verskeie mense uit verskillende geslagte wat simptome toon. Tussen 18% en 28% van gewone mense het ’n angsversteuring. Erge angs word dikwels eers sigbaar met trauma soos ’n erge siekte, kaping, egskeiding, misoes, verlies van familielede of bankrotskap.

Angsversteurings is dikwels die onderliggende oorsaak van depressie, alkohol- en ander substansmisbruik. Angs stimuleer adrenalien en aktiveer jou lyf se veg-of-vlug-reaksie wat ’n verskeidenheid fisieke simptome kan hê. Dit sluit in spierspasmas, hoofpyne, droë mond, slukprobleme, borskasdrukking en hartkrampe, ’n kol op die maag, bloeddruk, diarree, sweet, geïrriteerdheid en slaapstoornisse.

Verder bekommer sommige mense hulle oor alles. Selfs al besef hulle die kommer is oormatig, kan hulle dit nie afskakel nie en sukkel dus om te ontspan.

Navorsing bewys dit is ’n goed omskrewe siektegroep wat gewoonlik goed op behandeling reageer. Kalmeermiddels mag die simptome tydelik verbeter, maar as die simptome ’n mens se funksionering aantas, moet dit volledig behandel word.

Aangesien antidepressante die stres-stelsel kan laat afkoel en groei van nuwe breinbane fasiliteer en verbeter, lyk dit asof pa­siënte wat op lang termyn behandel word, progressief verbeter en mettertyd laer dosisse medisyne kan gebruik.

Duidelik beskryfde versteurings onder die angsversteuringgroep sluit in: ) Paniekversteuring met paniekaanvalle; ) Posttraumatiese stresversteuring ná erge trauma; ) Sosiale fobie wat ’n erge vorm van skaamheid is; ) Obsessief kompulsiewe versteuring met chroniese obsessiewe gedagtes, gevolg deur rituele of kompulsies; en ) Spesifieke fobies soos vir vlieg, hoogtes, hysbakke en spinnekoppe kan ook voorkom.

Behandeling van angsversteurings sluit medisyne in wat oormatige angs beheer en die brein help om nuwe bane te groei.

Kinders en tieners kan hierdie tipe angsversteurings kry, hoewel hulle dikwels effens anders presenteer soos met fobies vir byvoorbeeld skool en sosiale geleenthede, paniek en ook skeidigsangs, mutisme en gedragsprobleme.
Die belangrikste aanduider van angs in ’n kind is kinders wat heeltyd bekommerd is. Kinders met ’n veralgemene angsversteuring bekommer hulle oor dinge wat ander kinders nie eers aan dink nie; vir die meeste van die tyd, vir minstens ses maande lank. Geassosieerde simptome is rusteloosheid, moegheid, swak konsentrasie (met sekondêre leerprobleme), geïrriteerdheid, spierspasmas en slaapprobleme.

Onbehandelde angsversteurings kan ook lei tot depressie in kinders.

Tieners misbruik dikwels alkohol en ander substanse as ’n manier van selfmedikering vir angs. Angsversteurings is behandelbaar, en hoe vroeër dit gehanteer word, hoe beter. ) Berig saamgestel deur dr. Fanie Meyer, ’n psigiater aan die Optima MCare- psigiatriese hospitaal in Bloemfontein en dr. Christa Weyers, hoof van die tienereenheid by dié hospitaal.


optima_logo_white

The Optima Psychiatric Hospital, a healing centre, situated in the Bloemfontein suburb, Hospitaalpark, accommodating 76 patients and is operated by a company consisting of nine partners, all Psychiatrists.

Contact Details

17 Addison St, Bloemfontein, 9301
Phone: 051 502 1800
Information
Email: help.optima@mcare.co.za
Admissions
Email: help.optima@mcare.co.za
© 2023 M-Care Optima - Website design & development by Digital Platforms
SAcoronavirus.co.za